Cape Gateway
English | isiXhosa | Aangaande | Kontak | Hulp | Gevorderde Soektog  |
 
WOORDELYS: B
Definisies vir regeringsterme, alfabeties gelys. (Tans nie beskikbaar in Afrikaans; beskikbaar in Engels)
A   B   C   D   E   F   G   H   I   J   K   L   M   N   O   P   Q   R   S   T   U   V   W   X   Y   Z  

Bafana Bafana - "Seuns, seuns", die nieamptelike naam van die Suid-Afrikaanse Sokkerspan

Bakteriologie - Studie van bakterieë, veral met betrekking tot die geneeskunde en landbou.

Basiese dienste - Noodsaaklike dienste wat van die staat verwag word, soos watertoevoer, sanitasie en elektrisiteitsvoorsiening.

Batho Pele - "Mense Eerste", die 8 beginsels van dienslewering wat deur die staat aanvaar is, naamlik: raadpleging, diensstandaarde, toegang, hoflikheid, inligting, openheid en deursigtigheid, herskikking en waarde vir geld.

Bedingingsraad - 'n Arbeidsinstelling waar werknemers en werkgewers mekaar ontmoet om ooreenkomste oor lone en werktoestande te bereik.

Bedorwe stembrief - Stembrief wat per ongeluk of opsetlik verkeerd ingevul is. Hierdie stem word nie getel nie.SIEN OOK· Stembrief (Woordelys)

VERWANTE INLIGTING

Bedrog - Leuens of misleiding van iemand wat hulle gewoonlik finansieel benadeel.

Beëdigde verklaring - 'n Verklaring wat onder eed in die teenwoordigheid van 'n Kommissaris van Ede afgelê is. Dit kan as 'n bewysstuk in 'n hof gebruik word.

Beëindiging van swangerskap - Die abortering van 'n fetus. Aborsies is wettig in Suid-Afrika en word deur die Wet op die Beëindiging van Swangerskap gereguleer.

Begroot - Om die uitgawes verbonde aan 'n projek, onderneming of veldtog te beplan.

Begroting - 'n Geskatte of ingeligte raaiskoot oor die inkomste en uitgawes van 'n land, organisasie of projek. Begrotings is een van die maniere waarmee regeringsinstellings aanspreeklik vir hul besteding gehou word.

Behuisingskode - Nasionale riglyne oor behuisingsubsidies, waaronder volledige inligting oor hoe om om die onderskeie subsidies aansoek te doen.

Belangebotsing - 'n Situasie waarin jou persoonlike belange in stryd is met jou openbare verantwoordelikhede. Byvoorbeeld, waar iemand wat in 'n tenderkomitee dien, ook 'n aandeel het in 'n maatskappy wat vir 'n projek tender.

Belasting - Geld wat aan die regering betaal word om die land te bestuur en verbeterings aan openbare paaie en geboue soos staatshospitale aan te bring. Daar is verskeie soorte belasting, onder meer BTW, inkomstebelasting en kapitaalwinsbelasting.

Belasting op toegevoegde waarde (BTW) - Belasting op die produksie en verspreiding van goedere en dienste. In Suid-Afrika word 14% BTW bygevoeg by die koste van 'n artikel wanneer dit geproduseer of versprei word.

Belastingbetalersvereniging - Groep eiendomsbesitters wat saamstaan om te verseker dat die waarde van hul eiendom en hul regte as eiendomsbesitters in 'n gemeenskap beskerm word.

Beleid - Amptelike riglyne oor hoe regeringsbesluite geneem of hoe programme in werking gestel moet word.

Beleid oor MIV/vigs in die werkplek - Die amptelike riglyne van 'n organisasie oor hoe om enige aangeleenthede rakende MIV/vigs in die werkplek te bestuur. Die beleid kan riglyne insluit oor hoe om MIV-positiewe personeel te bestuur en te ondersteun, hoe om infektering met MIV in die werkplek te voorkom, en hoe om vrywillige toetsing en berading aan te moedig.

Bemagtiging - Uitbreiding van mense se vermoëns en keuses. Mense word in staat gestel om ingeligte besluite te neem oor aangeleenthede wat hulle raak en om hulle te posisioneer om geleenthede te benut.

Bemiddeling - 'n Manier om 'n geskik te besleg waarin 'n onafhanklike fasiliteerder die twee partye probeer versoen.

Bepalings - Die afdelings van 'n stuk wetgewing wat oor spesifieke onderwerpe handel. Byvoorbeeld, dit is 'n bepaling van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes dat werknemers 'n betaalstrokie van hul werkgewer moet ontvang.

Beroepsgesondheid - Gesondheid en veiligheid in die werkplek.

Beroepsiektes - Siektes veroorsaak deur stowwe of toetande waarmee 'n werknemer in die werkplek in aanraking kom.

Beslote Korporasie (BK) - 'n Soort ondernemingsvorm wat geskik vir kleinsakeondernemings is. Die regulasies en administratiewe prosedures is eenvoudig en buigsaam.

VERWANTE INLIGTING

Besnyding - Godsdiens- of tradisionele gebruik om die voorhuid af te sny.

Besproeiingstelsel - Infrastruktuur bestaande uit pype, vore, strome en/of sprinkelaars wat water na 'n gebied of land bring. Dikwels in landbou gebruik om die natlei van gewasse te outomatiseer.

Bestaansboerdery - Om voedsel te verbou en vee aan te hou vir eie oorlewing. Die gewasse en lewende hawe word nie verkoop om 'n wins te maak nie, maar word gebruik om die gesin te voed.

Bestuur van verandering - 'n Proses waarmee die manier bestuur word waarop veranderings in die regering en 'n sakeonderneming aangebring word.

Bevolkingsgroeikoers - Die jaarlikse persentasietoename in die grootte van die bevolking.

Biblioteek-sakehoekie - 'n Deel van 'n openbare biblioteek wat inligting verskaf oor hoe om 'n sakeonderneming te begin en dit te bedryf.

Biochemie - "Biologiese chemie", die studie van chemikalieë en chemiese reaksies wat in lewende organismes plaasvind.

Biologiese diversiteit of Biodiversiteit - Die aantal en verskeidenheid lewende organismes op aarde en die ekostelsels en omgewings waarvan hulle deel uitmaak. Die drie hoofkomponente van biodiversiteit is genetiese verskeidenheid, spesieverskeidenheid en die verskeidenheid in die ekostelsel.

Biologiese ouers - Natuurlike of geboorte-ouers.

Biotegnologie - Die kommersiële toepassing van tegnologie op lewende organismes of hulle produkte, of prosesse om nuwe gereedskap, produkte en dienste te skep.

Blitstoets - MIV-toets waarvan die uitslag binne 20 minute nadat die toets uitgevoer is, beskikbaar is.

Blommeryk - Die wêreld is in ses blommeryke verdeel. Elkeen bestaan uit 'n spesifieke soort flora. Die Kaapse Blommeryk is die kleinste, maar bevat die grootste verskeidenheid spesies.

Boedel - 'n Persoon se besittings, wat al hul bates en skulde insluit.SIEN OOK· Testate erfopvolging (Woordelys)

VERWANTE INLIGTING

Borgtoggeld - Geld wat deur iemand wat van 'n misdaad aangekla word, betaal word sodat hulle vrygelaat kan word totdat hulle vir die verhoor in die hof moet verskyn.

Bruto binnelandse produk (BBP) - Die jaarlikse meting van die totale nasionale uitset, inkomste en uitgawe in die ekonomie.

Bruto Nasionale Produk (BNP) - Die jaarlikse meting van die totale goedere en dienste wat in die land geproduseer word en die inkomste wat uit buitelandse beleggings ontvang word.

Buitelandse beleggings - Beleggings wat in Suid-Afrika gemaak word deur mense van buite die land. Dit bring geld die land binne.

Buitelandse betrekkinge - Onderhandelings en wisselwerking met ander lande. Dit het 'n uitwerking op die handel tussen lande en politieke verhoudinge.

Buitelandse handel - Handelstransaksies met ander lande.

Buitelandse valuta - Die stelsel waarvolgens een betaalmiddel vir 'n ander geruil word. Dit maak internasionale transaksies moontlik.

Buitepasiënt - Iemand wat in 'n hospitaal behandel word, maar nie daar oornag nie.

Burgerlike samelewing - Die NGO's en ander burgerlike instellings wat in die politieke ruimte tussen huishoudings en die staat optree. Dit is nie deel van die amptelike politieke area nie, maar word in die tyd van 'n krisis of verandering gepolitiseer.

Burokraat - 'n Persoon wat vir die staat werk. 'n Amptenaar of bestuurder in 'n burokrasie

Burokrasie - 'n Ingewikkelde stelsel om 'n staat se werksaamhede te bestuur deur middel van vaste prosedures en talle vlakke van werknemers met verskillende funksies en besluitnemingsmagte.

Bushmen - Boesman, by voorkeur die San genoem, is jagter-versamelaars wat minstens die afgelope 100 000 jaar reeds in Suid-Afrika woon. Die laaste oorblywende San-mense woon in die Kalahari-streek van die Noord-Kaap.

Buurtwag - Stelsel waarvolgens mense wat naby mekaar woon, ooreenkom om saam verantwoordelikheid te aanvaar vir die beskerming van mekaar en van mekaar se eiendom.

Bylae - Byvoegsel by 'n stuk wetgewing wat gedetailleerde inligting bevat wat nie by die wetgewing self ingesluit is nie.

Bywoningsertifikaat - Amptelike dokument wat verklaar dat iemand 'n kursus of geleentheid bygewoon het.

Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 15 Julie 2004 hersien
South African National Government crest Provincial Government of the Western Cape logo Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering Western Cape: A Home For All logo