Cape Gateway
English | isiXhosa | Aangaande | Kontak | Hulp | Gevorderde Soektog  |
 
WOORDELYS: S
Definisies vir regeringsterme, alfabeties gelys. (Tans nie beskikbaar in Afrikaans; beskikbaar in Engels)
A   B   C   D   E   F   G   H   I   J   K   L   M   N   O   P   Q   R   S   T   U   V   W   X   Y   Z  

Saamwoon - Om saam in dieselfde huis te bly.

Sake-etiek - Die morele standaarde en beginsels wat op sakeverhoudinge en -aktiwiteite betrekking het.

Sakelisensie - 'n Lisensie wat nodig is om wettig 'n sakeonderneming te bedryf. Verskillende lisensiëringsvereistes geld vir verskillende ondernemings.

Sakemodel - 'n Beskrywing of diagram wat wys hoe 'n organisasie funksioneer, hoe sy prosesse werk en hoe die verskillende aspekte van die organisasie met mekaar verband hou.

Sakeomgewing - Die ekonomiese, politieke, maatskaplike, kulturele en institusionele toestande wat 'n uitwerking op 'n sakeonderneming het.

Sakestrategie of sakeplan - 'n Beplanningsdokument waarin die doelwitte, oogmerke, strategieë en voorgestelde aktiwiteite van 'n organisasie uiteengesit word.

Sakeverwysingsinligtingsnetwerk (Brain) - 'n Sakenetwerk wat inligting en steundienste aan sakeondernemings verskaf. Vir nog inligting, besoek Brain se webwerf.

Salarisvlak - Regeringsposte word beoordeel en aan 'n salarisvlak (ook 'n pos genoem) toegeken. Daar word oor die salarisse vir elke vlak in die Staatsdiens-bedingingsraad onderhandel. Posadvertensies sal die vlak van die pos wat adverteer word insluit.

San - Inheemse bevolkingsgroep van die Wes-Kaap. Hulle was jagter-versamelaars en word soms ook Boesmans genoem.

Sektor - 'n Groep organisasies of sakeondernemings wat op dieselfde terrein of gebied bedrywig is. Byvoorbeeld, landbou is 'n sektor, asook toerisme.

Sektorale Onderwys-en-opleidingsowerheid (SOOO) - 'n Regeringsinstelling wat verantwoordelik is vir die reël van opleidings- en opleidingsprogramme in 'n spesifieke sektor. Elke sektor het sy eie SOOO.SIEN OOK· Vaardigheidsontwikkelingsheffing (Woordelys)

VERWANTE INLIGTING

Senior Sertifikaat - Voorheen die matrieksertifikaat genoem. Hierdie kwalifikasie word behaal nadat 'n leerder graad 12 suksesvol voltooi het.

Sensus - Amptelike studie van die demografie van die land wat gewoonlik al om die vyf jaar uitgevoer word. Die 2000-sensus het getoon daar is nagenoeg 44,5 miljoen mense in SA.

Sentrale regering - Die Nasionale Regering.

Sentrum vir Volwassene-onderrig (SVO) - 'n Opvoedkundige instelling waar kursusse in Basiese Onderwys en Opleiding vir Volwassenes (Abet) aangebied word.

Serologie - Mediese studie van serums, veral bloedserums.

Servikskanker - Gewasse by die ingang van die baarmoeder.

VERWANTE INLIGTING

Serwituut - 'n Wetlike reg om grond wat aan iemand anders behoort, te gebruik sonder om huur daarvoor te betaal. Byvoorbeeld, 'n mens kan 'n serwituut kry wat jou die reg gee om water uit 'n dam op 'n ander persoon se eiendom te gebruik.

SITA-raad (Raad van Staatsinligtingstegnologie-amptenare) - Senior staatsamptenare wat die nasionale departemente en die provinsiale regerings verteenwoordig en gesamentlik vir die aanvoor en bestuur van die strategie vir e-regering verantwoordelik is.

Sjebien - Plaaslike naam vir 'n taverne.

Skanskorwe - Hol metaalsilinders waarmee damme en fondamente gebou word.

Skeiding van magte - Die onderskeid tussen die drie vertakkings van die regering, naamlik die wetgewende gesag (wat wette maak), die uitvoerende gesag (wat die wette toepas) en die regterlike gesag (wat die wette afdwing). Die onafhanklikheid van elke tak beteken daar is wigte en teenwigte wat magsmisbruik help voorkom. Dit is 'n wesenskenmerk van 'n demokrasie.

Skerpioene - Die Direktoraat vir Spesiale Operasies. Hierdie gespesialiseerde polisie-eenheid kan georganiseerde misdaad en korrupsie ondersoek en vervolg. Dit ressorteer onder die Nasionale Vervolgingsgesag.

Skoolbeheerliggaam (SBL) - Verkose groep onderwysers, ouers en leerders wat beleid vir hul skool maak en skoolaangeleenthede soos die begroting en gedragskode behartig.

Skoolgereedheid - Stadium waarin 'n kind wat ontwikkeling en intellek betref, as gereed beskou word om met graad 1 te begin.

Sonering - Proses om geografiese gebiede in verskillende dele vir verskillende doeleindes op te deel. Byvoorbeeld, munisipale sones in stedelike gebiede voorkom dat sakeondernemings hulle in woongebuurte vestig.

Sorgafhanklike toelae - Hierdie toelae van R570 per maand is tot die beskikking van die ouer of pleegouer van 'n kind met 'n ernstige verstandelike of fisieke gestremdheid.

Sosiaal-ekonomiese regte - Ook "regte van die tweede generasie" genoem. Dit behels die reg op behuising, die reg op watertoevoer en die reg op onderwys. Die staat is verplig om toegang tot hierdie regte te verseker slegs in die mate dat sy hulpbronne dit toelaat.

Sosiale verwoordelikheid - 'n Verantwoordelikheidsgevoel teenoor die gemeenskap. In sakeondernemings verwys dit na die gedagte dat ondernemings tot die welstand van hul gemeenskappe behoort by te dra deur middel van byvoorbeeld beursskemas.

Speaker - 'n Lid van die parlement wat verkies word om oor parlementsittings en -debatte toesig te hou. Die persoon moet verseker dat die reëls en prosedures van die parlement nagekom word.

Spesiediversiteit - 'n Spesie is 'n groep plante of diere wat dermate ooreenstem dat hulle onderling kan voortplant en 'n vrugbare nageslag kan voortbring. Spesiediversiteit verwys na die verskeidenheid van spesies in 'n geografiese gebied of ekostelsel.

SSA - Statistieke Suid-Afrika.

Staande komitee - Permanente komitee. Byvoorbeeld, die gesamentelike staande komitee oro die Lewensgehalte en Status van Vroue is 'n vaste komitee van die nasionale parlement.

Staat - Regering of land.

Staatsaanklaer - Die staat se prokureur wat die beskuldigde in 'n strafsaak vervolg.

Staatsadministrasie - Die afdelings van die regering wat wette toepas, dienste aan die publiek lewer en vir die daaglikse bestuur van die land verantwoordelik is.

Staatsdienaar - Iemand wat vir die regering werk; ook 'n staatsamptenaar genoem.

Staatsdiens - Al die mense wat in die administratiewe tak van die regering werk om dienste aan die publiek te lewer. Hierdie werknemers is nie verkose nie.

Staatsdiens - Dit is die vertakking van die regering wat dienste aan die publiek lewer, byvoorbeeld om toegang tot water en sanitasie te verseker.

Staatsregsadviseur - Parlementêre regsadviseur wat nagaan dat nuwe wette behoorlik en in ooreenstemming met die Grondwet opgestel word.

Stadsverbeteringsgebied - Niewinsgewende organisasie wat geld afkomstig van vrywillig verhoogde tariewe in 'n bepaalde buurt gebruik om dienste in daardie gebied te verbeter.

Stasiekommissaris - Die hoofpolisieoffisier by 'n polisiekantoor.

Statute - Wette wat deur die parlement aanvaar is. Ook wette of wetgewing genoem.

Statutêre instelling - 'n Openbare entiteit wat ingevolge wetgewing tot stand kom. Byvoorbeeld, die Kommissie oor Geslagsgelykheid is ingevolge die Grondwet geskep.

Stedelik - 'n Digbevolkte gebied met 'n hoë vlak van dienste en infrastruktuur soos in 'n stad.

Stembrief - Die vorm wat in 'n verkiesing gebruik word en wat 'n lys name van al die kandidate of politieke partye bevat. Elke stemgeregtigde merk hul keuse op die stembrief en plaas dit in 'n verseëlde houer, die stembus.

Sterftesyfer - Ook sterftekoers genoem. Hoeveel mense in een jaar sterf, gewoonlik uitgedruk per 1 000 van die bevolking.

Stop Misdaad - 'n Openbare bewusmakingsprojek om gemeenskappe en individue aan te moedig om misdaad in Suid-Afrika te verminder. Dit sluit in 'n deeloproep-nommer waar jy misdaad anoniem kan aangee.

Strategie - Plan om jou doelwitte te bereik.

Strategiese beplanning - 'n Beplanningsproses waarin geïdentifiseer word wat 'n organisasie wil bereik (sy visie, missie en doelwitte), hoe hierdie doelwitte bereik sal word (die aksieplanne) en hoe dit sy prestasie gaan meet (verifieerbare aanwysers).

Streekdiensteheffing - Die bedrag wat sakeondernemings en werkgewers moet betaal aan die plaaslike of distriksmunisipaliteite onder wie hulle ressorteer.

Studiepermit - Amptelike dokument wat deur Binnelandse Sake uitgereik word aan iemand wat in Suid-Afrika wil studeer. Dit is onwettig om sonder so 'n permit hier te studeer.

Subraad - 'n Subraad is deel van die munisipale raad. Dit verteenwoordig 'n aantal wyke wat saamgegroepeer is en kan by die Raad aanbevelings maak oor sake wat daardie gebied raak. Dit kan ook gemagtig word om sekere pligte rakende daardie gebied uit te voer.

Subsidie - Geld wat deur die regering gegee word om 'n organisasie of 'n persoon te help om iets te koop. Byvoorbeeld, 'n huissubsidie is geld waarmee 'n huis gekoop kan word.

Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS) - 'n Openbare entiteit wat vir die monitering van produkstandaarde in Suid-Afrika verantwoordelik is. Vir nog inligting, besoek die SABS se webwerf.

Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Saeha) - 'n Openbare entiteit wat vir die beskerming en uitbouing van Suid-Afrika se erfenishulpbronne verantwoordelik is. Vir nog inligting, besoek Saeha se webwerf.

Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) - 'n Regeringsliggaam wat vir die invordering van belasting en doeane verantwoordelik is.

Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (Sako) - 'n Regeringsliggaam wat vir die Nasionale Kwalifikasieraamwerk verantwoordelik is. Vir nog inligting, besoek Sako se webwerf.

Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) - 'n Liggaam wat ingevolge die Grondwet geskep is om menseregte in Suid-Afrika te bevorder, te beskerm en te monitor.

Suid-Afrikaanse Nasionale Geletterdheidsinisiatief (Sangi) - Vrywilligerveldtog wat deur die Departement van Onderwys begin is om geletterdheid in Suid-Afrika te bevorder.

Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) - Die gewapende mag van Suid-Afrika wat uit die weermag, die vloot en die lugmag bestaan.

Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) - Die nasionale polisiemag van Suid-Afrika. Vir nog inligting, besoek die SAPD se webwerf.

Suid-Afrikaanse Regskommissie (SARK) - Die kommissie wat navorsing doen oor terreine wat nuwe wette of drastiese wysigings aan wette vereis. Die SARK ontwikkel deur middel van 'n proses van openbare deelname voorstelle vir nuwe wette wat konsepwetgewing kan insluit.

Summiere ontslag - Beëindiging van diens sonder kennisgewing.

Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) - 'n Transformasieproses in die ekonomie wat daarop gemik is om die getal swart mense te vermeerder wat die land se ekonomie bestuur, besit en beheer. Dit moet ook ongelykhede in inkomste verminder.

Swot-ontleding - 'n Sakeproses waarmee die omgewing waarin 'n organisasie funksioneer, beoordeel word. "Swot" is 'n afkorting wat saamgestel is uit die eerste letter van die Engelse woorde "strengths", "weaknesses", "opportunities" en "threats" (sterk punte, swak punte, geleenthede en bedreigings). Die proses word dikwels in die opstelling van 'n strategiese plan gebruik.

Die inhoud van hierdie bladsy is laas op 4 Junie 2006 hersien
South African National Government crest Provincial Government of the Western Cape logo Cape Gateway is 'n diens wat die regering hoofsaaklik aan die burgers van die Wes-Kaap bied deur die voorsiening van inligting oor plaaslike, provinsiale en nasionale regering Western Cape: A Home For All logo