Vaardigheidsertifikaat - Amptelike dokument wat verklaar dat iemand opleiding ontvang en aan die vereiste standaard voldoen het om die kursus te slaag.
Vaardigheidsontwikkelingsheffing - 'n Bedrag wat deur alle werkgewers aan die SAID oorbetaal word. Die Vaardigheidheidsontwikkelingsfonds word vir die opleiding van werknemers en die ontwikkeling van vaardighede gebruik. SIEN OOK· Sektorale Onderwys-en-opleidingsowerheid (SOOO) (Woordelys)
Vaderskapstoets - 'n DNS-toets wat kan bewys dat iemand die biologiese vader van 'n kind is.
Veel voorkomende vrae (VVV) - Vrae wat gereeld gevra word. Webwerwe en inligtingspakkette bevat dikwels afdelings waar hierdie vrae beantwoord word.
Veiligheidsplek - 'n Tydelike huis waar kinders kan tuis gaan as daar niemand is wat na hulle kan omsien nie en die staat nog nie finaal besluit het waar hulle geplaas moet word nie.
Verantwoordelike dobbelary - Om op 'n verstandige en ewewigtige manier weddenskappe te plaas en te dobbel sodat jy nie daaraan verslaaf raak of jouself in finansiële moeilikheid laat beland nie.
Verbruikersbekermer - 'n Regeringsamptenaar wat verantwoordelik daarvoor is om op verbruikersklagtes in te gaan.
Verdere Onderwys en Opleiding (VOO) - Vlak van onderwys wat graad 10 tot 12 insluit, asook kursusse op gelykstaande standaard wat deur tegniese kolleges (nou bekend as VOO-kolleges) aangebied word. SIEN OOK· VOO-kolleges (Woordelys)
Verdigting - Die ontwikkeling van ongebruikte grond in ylbevolkte gebiede van die stad om meer mense te kan huisves. Dit gee mense toegang tot grond wat reeds van dienste (elektrisiteit, water, sanitasie) voorsien is.
Verenigde Koninkryk (VK) - Die gesamentlike naam vir Engeland, Skotland, Wallis, Noord-Ierland, die eiland Man en die Kanaaleilande.
Verenigde Nasies se Konvensie oor Kinderregte (VNKKR) - In hierdie internasionale ooreenkoms word die fundamentele regte van kinders uiteengesit. Tot dusver is die konvensie deur 192 lande bekragtig (slegs twee lande het dit nog nie onderteken nie).
Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNOP) - Die agentskap van die Verenigde Nasies wat vir die koördinering van internasionale ontwikkelingsinisiatiewe verantwoordelik is.
Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) - Die interregeringsorganisasie van die Verenigde Nasies wat fokus op geslagsake, kultuur en kommunikasie, opvoeding, natuurwetenskappe, en sosiale en menswetenskappe.
Verhoorafwagtende gevangene - Iemand wat in 'n gevangenis aangehou word terwyl hulle vir hul verhoor in 'n hof wag.
Verordening - Wet wat deur die provinsiale regering gemaak is.
Verordeninge - Dit is wette wat deur plaaslike regerings uitgevaardig word. Byvoorbeeld, die Kaapse stadsraad het 'n verordening oor openbare steurnisse.
Versoening - Die herstel van vrede en harmonie. Om twee botsende partye by mekaar te bring om vriendskaplike betrekkinge tussen hulle te bou.
Verstedeliking - Die proses waarin mense van die platteland na stedelike gebiede verhuis. Byvoorbeeld, wanneer mense plase verlaat en na die stede gaan om werk te probeer vind.
Verwoestyning - Wanneer 'n gebied 'n woestyn word omdat die grond nie behoorlik bewerk is nie of omdat die klimaat verander het.
Veto - Die reg om 'n voorstel af te keur, selfs al is dit deur die meerderheid van die mense aanvaar. Byvoorbeeld, die President het die reg om wetgewing te veto as hy meen dit is ongrondwetlik, selfs al het die parlement in 'n stemming die wet goedgekeur.
Vigs - "Verworwe Immuniteitgebreksindroom", 'n ernstige, gewoonlik noodlottige, siekte van die immuniteitstelsel wat deur die MI-virus veroorsaak word. Dit lei tot 'n erg verswakte immuniteitstelsel wat die pasiënt vatbaar maak vir opportunistiese infeksies (soos TB, longontsteking of kanker). Dit word oorgedra deur blootstelling aan geïnfekteerde liggaamsvloeistowwe, veral bloed en semen.
Vigswesies - Kinders onder die ouderdom van 15 of 18 wie se moeders weens MIV/vigs gesterf het. Die kinders is nie altyd MIV-positief nie.
Virologie - Studie van virusse en virussiektes.
Visum - 'n Regsdokument wat sê dat iemand wettig die land mag binnekom. Daar is verskeie visumsoorte wat 'n mens toelaat om vir verskillende tydperke in die land te bly. Byvoorbeeld, 'n studentevisum laat jou toe om langer te bly as 'n vakansievisum.
Vlugteling - 'n Persoon wat na 'n ander land vlug weens rasse-, godsdienstige of politieke vervolging. Hulle word deur die wet toegelaat om te bly in die land waarheen hulle gevlug het.
Voeding - Voedingskrag verkry van voedsel wat jou liggaam nodig het om gesond te bly.
Voedselsekuriteit - Toegang tot 'n voldoende en 'n volhoubare voedselvoorraad.
VOO-kolleges - Hierdie onderwysinstellings, wat voorheen as tegniese kolleges bekend gestaan het, bied opleiding vir NKR-vlakke 2 tot 4 en Nasionale Tegniese Sertifikate 1 tot 3 aan.SIEN OOK· Verdere Onderwys en Opleiding (VOO) (Woordelys)
Voog - Die persoon wat wettig vir 'n kind verantwoordelik is. Dit kan die ouer wees of 'n ander persoon wat deur die hof aangewys is.
Voorbehoeding - Middele om swangerskap te voorkom, waaronder voorbehoedpille, IUA's, voorbehoedinspuitings en kondome.
Voorhuwelikse kontrak - Hierdie kontrak word voor die huwelik gesluit. Dit sit uiteen wat met die egpaar se eiendom en geld sal gebeur indien hulle sou skei.
Voorkeuraankope - 'n Beleid oor regstellende aksie deur die regering wat staatsdepartemente en -agentskappe aanmoedig om goedere en dienste te koop by voorheen benadeelde individue of sakeondernemings.
Voorlegging - Mondelinge of skriftelike aanbieding oor 'n bepaalde aangeleentheid.
Voorlopige belastingbetalers - Sakeondernemings of individue wat nie elke maand belasting betaal nie, maar al hul belasting 2 of 3 keer per jaar te betaal.
Voting station - Official place in your area where you are required to go to cast your vote. Official place in your area where you are required to go to cast your vote.
Vroeë kindontwikkeling - Die fisieke, geestelike, emosionele, morele, sosiale en geestelike ontwikkeling van kinders van geboorte af tot 9 jaar.
Vrugbaarheidskoers - Die gemiddelde getal kinders aan wie 'n vrou in haar leeftyd die lewe skenk. In 1998 was die vrugbaarheidskoers in Suid-Afrika 2,9 kinders per vrou.
Vrywillige Berading en Toetsing (VBT) - Nie-verpligte toetsing vir MIV wat berading voor en na toetsing insluit.