|
OPENBARE BESKERMER  Lawrence Mushwana, Openbare Beskermer Die Kantoor van die Openbare Beskermer is volgens die Grondwet in die lewe geroep om klagtes van die publiek teen regeringsagentskappe of staatsamptenare te hanteer en te ondersoek. Die Openbare Beskermer het die mag om regstellende stappe aan te beveel en verslae uit te reik. Die Openbare Beskermer dien vir sewe jaar, totdat die President 'n nuwe Openbare Beskermer aanstel. Die Openbare Beskermer se dienste is gratis en vir almal beskikbaar. As jy 'n klagte by die Kantoor van die Openbare Beskermer indien, sal hulle die saak ondersoek. As die klagte geregverdig is, sal hulle die saak probeer regstel. Die Openbare Beskermer hanteer klagtes vertroulik. Die Openbare Beskermer kan staatsamptenare op enige vlak ondersoek. Dit sluit nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede in, asook enigeen wat 'n taak verrig soos: - 'n staatswerknemer
- 'n polisielid (Jy kan ook die OKD skakel)
- 'n kiesbeampte
- parastatale liggame, soos Eskom of Telkom
- statutêre rade, soos die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) of die Wetenskaplike en Nywerheids Navorsingsraad (WNNR).
Die Openbare Beskermer moet kyk na klagtes oor: - die misbruik van mag
- onregverdige, wisselvallige, onhoflike of ander onbehoorlike gedrag
- onregverdigbare vertragings
- menseregte skendings (jy kan ook die Suid-Afrikaanse Menseregte Kommissieskakel)
- wanadministrasie
- oneerlikheid of onbehoorlike gebruik van openbare geld
- onbehoorlike verryking
- onbehoorlike bevoordeling.
Die Openbare Beskermer ondersoek nie die volgende soort klagtes nie: - hofbevele en -vonnisse
- indiwidue se private optrede
- private maatskappye
- private dokters en prokureurs.
Hoe om Klagte by die Openbare Beskermer in te Dien As 'n bevooroordeelde besluit van 'n staatsamptenaar jou raak, moet jy eers: - Met die betrokke amptenaar of amptenare praat.
- Dan moet jy aan die persoon wat beheer oor die amptenaar of amptenare voer, skryf.
- Daarna moet jy jou Lid van die Nasionale of Provinsiale Parlement nader.
- Dan kan jy aan die Openbare Beskermer skryf.
As jy aan die Openare Beskermer skryf, moet jy die volgende inligting insluit: - Die aard van jou klagte.
- Die agtergrond tot jou klagte.
- Die redes waarom jy voel jou klagte behoort deur die Openbare Beskermer ondersoek te word.
- Wat jy gedoen het om die probleem self op te los (indien van toepassing). Noem die name van die amptenare met wie jy te doen gehad het, gee die datums en verduidelik wat gesê is. Afskrifte van enige korrespondensie tussen jou en die amptenare moet by jou brief ingesluit word.
- Gee 'n telefoonnommer waar jy bereik kan word, as jy een het.
- In sommige gevalle kan die Openbare Beskermer 'n beëdigde verklaring vereis voordat ondersoek ingestel word.
As jy onseker is of jou probleem iets is wat die Openbare Beskermer sal ondersoek, of as jy nie kan skryf nie, kan jy die Openbare Beskermer se kantoor bel. Daar is opgeleide professionele personeel wat na jou probleem, groot of klein, sal luister, en ondersoek sal instel. Jy kan ook, as jy dit verkies, die Kantoor vir 'n onderhoud of 'n konsultasie besoek. Dit is beter om eers te skryf en vir 'n onderhoud te vra. Kontak Besonderhede Hoofkantoor Privaatsak X677, Pretoria, 0001 Sinodale Sentrum, Visagiestraat 228, Pretoria Tel: 012 322 2916 Tollvry: 0800 112 040 Faks: 012 322 5093
Die Wes-Kaapse Provinsiale Kantoor Adderleystraat 138, Kaapstad Posbus 712, Kaapstad, 8000 Tel: 021 423 8644 Faks: 021 423 8708 shamielah@pprotect.pwv.gov.za DIE AANMELD VAN ONREëLMATIGHEDE: WES-KAAPSE PROVINSIALE REGERING Enige onreëlmatighede in die Wes-Kaapse Provinsiale Regering kan by die Forensiese Ouditering Komponent van die Provinsiale Administrasie aangemeld word. Dit sluit voorvalle van korrupsie, bedrog, diefstal en die misbruik van regeringseiendom in. Onreëlmatighede kan naamloos per telefoon, pos, faks of e-pos aangemeld word by: Kerkstraat Kamers 33, Kerkstraat Posbus 659, Kaapstad, 8000 Tollvry: 0801 226 545 Faks: 021 426 2649 svaarde@pgwc.gov.za Om te verseker dat sake behoorlik ondersoek kan word, word volledige inligting oor die beweerde onreëlmatigheid vereis. As jy iets wil aanmeld, moet jy soveel van die volgende inligting as moontlik probeer verskaf: Die onreëlmatigheid - Wat die aard van die onreëlmatigheid is (byvoorbeeld diefstal, korrupsie, bedrog).
- Hoe en waar die onreëlmatigheid gebeur het.
- Of dit 'n voortslepende probleem is en hoe lank dit al voorkom.
- Enige bewyse wat jy oor die onreëlmatigheid het. Weet jy byvoorbeeld, in die geval van diefstal, waar die gesteelde goed geberg word?
- Weet enigiemand anders van die onreëlmatigheid en sal hulle bereid wees om inligting aan die ondersoekbeampte te gee?
- Kan jy 'n geldelike waarde aan die onreëlmatigheid koppel?
Die verdagte amptenare: - Wat is die verdagte staatsamptenare se name, vir watter Departemente werk hulle en wat is hulle poste?
- Wat is die name van enige ander mense wat betrokke is?
- Was die verdagte amptenare voorheen by ander onreëlmatighede betrokke?
Die Klaer- Het jy dié onreëlmatigheid vantevore aangemeld? Indien wel, by wie en watter opvolgoptrede was daar?
- Het jy gesien hoe die onreëlmatigheid gebeur, of hoe het jy daarvan te wete gekom?
- Is jy bereid om 'n beëdigde verklaring af te lê en te getuig?
|