Die Wes-Kaapse Minister van Toerisme en Dobbelary, Joyce Witbooi, het vanaand erkenning gegee aan vroue in hierdie provinsie wat oor die jare nie openbare erkenning gekry het vir hul toewyding tot toerisme nie, maar op hul eie stil manier betekenisvol tot toerisme ontwikkeling bygedra het.
Gerig om 'n jaarlikse geleentheid te word, is die geleentheid gehou in die Bo-Kaap, by "Marco's African Place" met bekende radio persoonlikheid Shado Twala as seremoniemeester en twee vroue orkeste wat opgetree het, - die "Women Unite Marimba Band" en "Madame Afrique".
In haar toespraak aan meer as 300 gaste, het Minister Witbooi, twaalf vroue vereer, waarvan die een 'n nadoodse toekenning was. Minister Witbooi het beklemtoon dat sy nie wenners aankondig nie. "Dis nie oor die beste nie. Dit gaan oor erkenning aan onbekende vroue vir hul bydrae tot toerisme en werkskepping."
Die twaalf vroue (in alfabetiese volgorde) is: Glenda Appies van Saldanha, Debbie Bruce van George, Dale Isaacs van Crawford, Maria Mailie van Khayelitsha, Emmah Makatu van Milnerton, Hanli Matthysen (nadoodse toekenning) van Swellendam, Marian Mercuur van Worcester, Cheryl Mulder-Verbruggen van Kaapstad, Shareen Parker van Kaapstad, Itumeleng Pooe van Kaapstad, Maureen Wicomb van Oudtshoorn en Rose Willis, voorheen van Beaufort-West.
In haar toespraak het Minister Witbooi gesê "Ons vereer vroue wat oor die jare nie openbare erkenning vir hul toewyding tot die toerisme saak gekry het nie, maar wat op hul eie stil manier betekenisvol bygedra het tot die ontwikkeling van toerisme - nie tot hul eie voordeel of dié van hul besighede nie, maar tot die voordeel van die mense om hulle en van die groter gemeenskap."
"Hierdie vroue speel dikwels minder glansryke rolle, daar waar die media hulle gewoonlik nie raaksien nie, in 'n bedryf wat 'n breë spektrum dek - ontwikkeling, bemarking, entrepreneurskap. Die twaalf vroue is van alle vlakke van die samelewing en deur hulle individuele werk, staan hulle uit in wat hulle bereik het."
Vanaand gaan oor die erkenning van daardie werk, wat dikwels ongenoem verbygaan. Hulle het nie 'n media profiel nie. Hulle is meer betrokke by aksie en impak, eerder as uitdagings en suksesse."
Die twaalf vroue dien as 'n inspirasie vir alle vroue in die Wes-Kaap, van die landelike gebiede tot die stad - hulle wys dat toerisme werk en goed werk.
Uitgereik deur: Wes-Kaapse Ministerie van Toerisme en Dobbelary Kontak persoon: Hélène Rossouw, openbare skakel praktisyn Sel: 082 771 8834E-pos: herossou@pgwc.gov.za