Die mikpunt en doel van die Provinsiale Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk (PROR) is:
- Om die PROR in lyn te bring met die Nasionale Ruimtelike Ontwikkelingsperspektief;
- Om ruimtelik, die visie van hoe die Provinsie in die breedste sin behoort te ontwikkel, aan te dui;
- Om die verskillende sektor-strategieë ruimtelik te integreer;
- Om 'n raamwerk te bied wat omgewingsvolhoubare ontwikkeling (d.w.s. ekologiese integriteit, sosiale gelykberegtiging en ekonomiese doeltreffendheid) regdeur die Provinsie bevorder;
- Om te verseker dat hierdie doelwitte gereflekteer word in die provinsiale ruimtelike ekonomie;
- Om die ruimtelike ontwikkeling van munisipaliteite te rig;
- Om as 'n inligtingsbron en riglyn te dien om grondontwikkelingsbestuur toe te lig en te rig; en
- Om die interafhanklikheid tussen ekologiese, sosiale en ekonomiese aktiwiteite ruimtelik te reflekteer.
Tot dusver is voorbereidende dokumentasie opgestel d.m.v. 'n inklusiewe proses wat owerheids-, burgerlike, arbeids- en sake-verteenwoordigers betrek het, en die dokumentasie is gekonsolideer in een dokument. Openbare kommentaar word nou gevra op die konsepvoorstelle vervat in die dokument.
'n Kopie van die dokument is vir kommentaar beskikbaar vanaf Maandag, 11 April by elk van die Distriksmunisipaliteite (stadsbeplanningskomponent) en by die kantoor van die Direkteur: Beplanning, Biodiversiteitsbestuur en Kusbestuur op die tweede vloer, Property Centre, Dorpstraat 3 (gebruik ingang by Dorpstraat 1), Kaapstad. Dit is ook beskikbaar op die departement se webtuiste, by www.capegateway.gov.za/eadp
Hierdie kennisgewing is in Xhosa op die webtuiste en by Die Direkteur: Beplanning, Biodiversiteitsbestuur en Kusbestuur, Property Centre, Dorpstraat 1, Kaapstad beskikbaar.
Geskrewe komentaar moet gepos word aan:
Die Direkteur: Beplanning, Biodiversiteitsbestuur en Kusbestuur
Privaatsak X9086
Kaapstad
8000