Verder het President Mbeki in sy openingsrede vanjaar die landbousektor geïdentifiseer as een van die sektore wat 'n beduidende rol moet speel in die bereiking van die regering se doelwit om die ekonomie met 6% te laat groei deur middel van die Versnelde Groei en Ontwikkeling Strategie (ASGISA). Ek glo dat die sukses van ASGISA gaan afhang van die mate waarin ons in staat is om innoverend te dink sodat ons die kettings kan breek wat groei belemmer. Ek het in die Landbou begroting vanjaar die volgende oor Bio-brandstof gesê:
"In this regard I am proud to announce that our program Agricultural Economics has made huge strides in its research on the development and production of bio-fuels with special emphasis on wheat. In the wheat producing areas of our Province, farmers are traditionally constrained by the lack of alternative uses for their natural resources. It is to this end, and also in response to the emphasis on bio-fuels as envisaged in the Accelerated and Shared Growth Initiative for South Africa (ASGISA) that we have embarked on a study investigating the feasibility of Bio-Ethanol Production in the Western Cape and this will feed into the National strategy. From the completed first phase of the study it is clear that Bio-Ethanol production in the Western Cape will not only increase farm incomes, secure the existing jobs and create more employment; the fuel from surplus wheat will supply 6% of the energy needs of the Province. We have earmarked R125 000 for the continued investigation based on the National strategy".
Wat is die geskiedenis hiervan?
Graan Suid-Afrika, by monde van Mnr Niekie Mouton het in die derde kwartaal van 2005 die Departement van Landbou: Wes-Kaap genader met 'n amptelike versoek om die lewensvatbaarheid van 'n bio-etanol bedryf in die Wes-Kaap te ondersoek.
Die Departement het gehoor gegee en gedurende November 2006, het een van ons landbou-ekonome die Universiteit van Minnesota in die VSA, asook vier aanlegte wat etanol produseer, besoek. Die aanlegte wat etanol uit koring produseer is hoofsaaklik in Kanada naamlik Permolex by Red Deer in Alberta, Okanagan Biofuels by Kelowna in Brits-Columbië en Pound-Maker Agventures by Lanigan in Saskatchewan. Exol by Glenville in die VSA produseer etanol uit mielies.
'n Model is deur ons landbou-ekonoom in samewerking met die Universiteit van Minnesota en die aanlegte ontwikkel. Die model stel ons in staat om die winsgewendheid van 'n etanol aanleg met mielies of koring as grondstof, wetenskaplik te ondersoek
'n Dit is 'n eerste vir Suid-Afrika. Alhoewel die Wes-Kaap provinsie nie genoegsame hoeveelheid plantaardige olies soos canola produseer om 'n grootskaalse bydrae tot energieverskaffing in die vorm van biodiesel te maak nie, bied die produksie van kleingrane soos koring, gars en veral korog 'n uitstekende geleentheid vir die vestiging van 'n etanol aanleg.
Die Provinsie produseer die afgelope sewe jaar 'n gemiddelde surplus van 286 000 ton koring. Die koring word tans na ander bestemmings in Suid-Afrika uitgevoer. Dus sal die koringvoorraad wat vir menslike verbruik in die Wes-Kaap bestem is, nie deur die oprigting van 'n aanleg wat jaarliks 286 000 ton inneem, geraak word nie.
'n Groot aantal van ons plaaslike bevolking (insluitende mans, vrouens, kinders en afgetredenes) is direk afhanklik van 'n bestaan uit hierdie streeksurplus koring. Die resultate van die gesamentlike Koringverslag van 2005 opgestel deur die Departement Landbou: Wes-Kaap, Universiteit van Stellenbosch, Universiteit van Pretoria en die Universiteit van die Vrystaat, het duidelik onderstreep in watter benarde finansiële toestand hierdie bedryf verkeer.
Dié surplus koring is genoeg om jaarliks 102 miljoen liter etanol te produseer. Teen 'n insluitingskoers van ses persent etanol in petroleum behoort die koringbedryf in die verwagte vraag na etanol vir die Provinsie te kan voorsien. Die Wes-Kaap verbruik nagenoeg 1 739 miljoen liter petroleum jaarliks. Hierdie syfer sluit die bydrae wat gars en veral korog tot die produksie van etanol kan maak, uit.
Die navorsingsresultate toon dat daar vir elke ton B3- en B4-graad koring wat aan die beoogde aanleg gelewer kan word 'n direkte Randwaarde van R243 per ton toegevoeg word. Die aanleg toon 'n beraamde netto waarde van R69 miljoen in die eerste jaar. Hierdie syfer kan met R25 miljoen verhoog word, indien die aanleg etanol direk aan 'n petroleum aanleg lewer. Met ander woorde, indien dit nie nodig sou wees om 'n denaturant by die etanol te voeg voor lewering nie. Teen 'n eenmalige kapitaalbelegging van R302 miljoen realiseer die belegging 'n opbrengskoers van nagenoeg 30 %.
Die ontwikkeling van 'n etanolaanleg in die Wes-Kaap hou dus die volgende voordele in;
- 'n Eenmalige kapitaalbelegging van R302 miljoen sal 'n bate vir die Wes-Kaap tot stand bring.
- Nuwe werksgeleenthede sal in lyn met ASGISA geskep word:
- Tydens konstruksie sal 150 werkgeleenthede geskep word.
- Om die aanleg te bedryf sal tot 50 nuwe gespesialiseerde werksgeleenthede geskep word.
- Bykomend sal die oprigting van die aanleg tussen 560 en 750 nuwe werksgeleenthede in die ekonomie aanleiding gee.
- In die koringbedryf sal 7 650 individue (insluitende mans, vrouens, kinders en afgetredenes) verseker wees van groter werkstabiliteit en 'n meer sorgvrye toekoms.
- Die nasionale werkloosheidsyfer van 30 persent, wat sommige ontleders reken selfs hoër mag wees, kan dus effektief deur die ontwikkeling van 'n etanol aanleg verminder word.
- Nuwe geleenthede vir Swart Ekonomiese Bemagtiging word ook geskep
- Nuwe geleenthede vir entrepreneurs en opkomende produsente in die veevoer- en intensiewe veebedrywe (pluimvee, varke, vleisbeeste en suiwel) mag ontstaan. Die aanleg sal ongeveer 95 000 ton hoë proteïen veevoer (Gedroogde Distileergraan met Oplossings) produseer.
- Met die groeiende mark vir koolsuurgas (CO2), veral vir toekomstige watersuiwering, sal die 95 000 ton koolsuurgas wat geproduseer gaan word, verwelkom word.
- Vir die produksie van petroleum sal die plaaslike geproduseerde etanol Suid-Afrika minder afhanklik van ingevoerde ru-olie maak.
- Wêreldwye kommer oor die verwarming van ons atmosfeer (veroorsaak deur die uitlaatgasse van voertuie wat koolstofdioksied bevat) word aangespreek deur meer etanol in petroleum in te sluit.
- Internasionale ooreenkomste soos onder andere die Kyoto Protokol word in 'n toenemende mate nagekom. Etanol word nie, soos die ander oktaan verrykende bymiddels in petroleum, as 'n belangrike karsinogeen in uitlaatgasse beskou nie en sal ook nie grondwater besoedel nie.
Dit is belangrik om wyer te kyk as die tradisionele losstaande aanleg wat net etanol, voergraan en koolsuurgas (CO2) produseer. Ander tipe aanlegte moet ook ondersoek word. Dit is dus van belang om die bestaande investering in silo- en maalfasiliteite in ag te neem asook die produksie van produkte soos gluten, bio-gas, surplus elektrisiteit, organiese kunsmis en ammoniak.
Verdere landbou-ekonomiese navorsing sluit die evaluering van aanlegte in wat in hul eie energiebehoeftes (elektrisiteit) voorsien. Hierdie ondersoek word tans in samewerking met 'n Kanadese konsultasiemaatskappy gedoen. Verder heers daar onsekerheid oor die invloed wat 'n biodiesel aanleg met ingevoerde sojabone as grondstof, op die lewensvatbaarheid van 'n etanol aanleg, asook die Wes-Kaap se ekonomie mag hê. Dit moet in die lig gesien word dat die neweprodukte van 'n etanol- en biodiesel aanleg waarskynlik in die veevoermark sal meeding. Dit mag 'n onbekende impak op die canola- en toerismebedryf in die Overberg streek hê.
Die glo dat die ontwikkelende etanolbedryf dus saam met die surplus kleingrane 'n uitstekende geleentheid vir groei en stabiliteit in die Wes-Kaap se ekonomie bied en is van mening dat ons die pas sal moet versnel in ons strewe om 'n voorloper in die bedryf te word.
Ek wil vir u baie sterkte toewens met die simposium en die hoop uitspreek dat u vandag daarin gaan slaag om heelwat stene te vorm wat as boublokke sal dien vir die toekoms.
Navrae:
Alie van Jaarsveld
Spokesperson
Ministry of Agriculture: Western Cape
Tel: 021 483 4930
Fax: 021 483 3890
Email: avjaarsv@pgwc.gov.za