|
WIE MAG VIR 'N DRANKLISENSIE AANSOEK DOEN? U mag om 'n dranklisensie aansoek doen tensy u: - Gedurende die afgelope tien jaar tronkstraf sonder die opsie van 'n boete uitgedien het (die Raad mag in sekere gevalle 'n uitsondering maak).
- Bankrot is.
- Minderjarig is.
- 'n Eggenoot/eggenote van enigeen van die bogenoemde is.
HOE OM VIR 'N DRANKLISENSIE AANSOEK TE DOEN? U kan deur 'n prokureur of 'n drankkonsultant vir 'n dranklisensie aansoek doen, of u kan in u persoonlike hoedanigheid aansoek doen. Aansoekvorms (VORM 1) is by die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad beskikbaar. Andersins kan u die regulasies koop wat kragtens die Drankwet uitgevaardig is en wat VORM 1 insluit. Hierdie aansoekvorm is in triplikaat en bestaan uit die oorspronklike, 'n afskrif vir die Aangewese Polisiebeampte (APB), en 'n afskrif vir die Drankraad. Sluit besonderhede ter ondersteuning van u aansoek in, soos bewys van beroep. Sluit ook besonderhede van die perseel in, soos kleurfoto's of 'n gedetailleerde beskrywing, 'n afskrif van die spyskaart (indien kos bedien word), en 'n vloerplan waarop die plasing en afmeting van deure, vensters en toonbanke en die ligging van strate en uitgange aangedui word. Die aansoek moet getik en nie handgeskrewe wees nie. Die voorgeskrewe aansoekgeld moet by die plaaslike kantoor van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) inbetaal word en bewys van betaling moet by die aansoek aangeheg wees. Die voltooide vorm moet op die eerste Vrydag van die maand deurgestuur word aan die landdros in die distrik waar die persele wat gelisensieer moet word, geleë is. Twee weke voordat die aansoek aan die landdros deurgestuur word, moet kennis van voorneme aan die Staatsdrukker in Pretoria deurgegee word vir publikasie in die Staatskoerant op die eerste Vrydag van die maand. Die kennisgewing in die Staatskoerant is die enigste kennis van die aansoek wat aan die publiek gegee word. Die APB vir die distrik sal binne 35 dae 'n verslag by die landdros indien. Die APB sal die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum of plaaslike belastingbetalersvereniging van die aansoek in kennis stel. U het 42 dae om skriftelik op die polisieverslag of enige besware te antwoord. Indien daar geen besware ontvang word nie en die polisieverslag is ingedien, kan die aansoek na die sekretaris van die Drankraad deurgestuur word. Die Drankraad sal elke aansoek ten opsigte van die aansoeker, die perseel en openbare belang oorweeg. Nota: Nakoming van die riglyne wat hier uiteengesit is, waarborg nie die sukses van 'n aansoek nie. Die Drankwet en sy regulasies is ingewikkeld en aansoekers word aangeraai om professionele advies rakende die werking daarvan in te win. Om nadere besonderhede te bekom, kontak die Wes-Kaapse Drankraad. |