| English | | | Afrikaans | | | Malunga | | | Qhagamshelana | | | Uncedo | | | Funa nzulu | |
|
|
HOE OM TE WETE TE KOM WATTER POSTE IN DIE STAATSDIENS BESKIKBAAR IS
Nie alle staatsdiensposte word in die media geadverteer nie. Sommige poste word slegs intern geadverteer.
Nasionale en provinsiale staatsdiensposte word intern geadverteer in die Staatsdiensvakature-omsendbrief. Die Stad Kaapstad adverteer sy vakatures aanlyn. Die meeste senior poste, dit wil sê dié in die senior bestuursdiens (SBD), moet nasionaal geadverteer word ooreenkomstig regulasies van toepassing op die staatsdiens. U kan meer te wete kom omtrent die SBD deur die SBD-handleiding te lees. HOE OM AANSOEK TE DOEN OM 'N STAATSDIENSPOS
Die eerste stap om aansoek te doen om 'n geadverteerde pos in die staatsdiens is om die staatsdiensposaansoekvorm, vorm Z83, in te vul. U kan hierdie vorm aflaai, of aanvra by enige staatsdienskantoor. Hierdie vorm moet ingevul word vir alle staatsposte op sowel nasionale as provinsiale vlak. 'n Aansoek om 'n betrekking word normaalweg nie aanvaar indien dit nie vergesel word deur 'n ingevulde vorm Z83 nie. Die Nasionale Parlement, die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement en die munisipaliteite (plaaslike regering) maak nie gebruik van hierdie vorm nie.
Om die vorm behoorlik in te vul, moet u die posadvertensie voor u hê met die korrekte besonderhede soos die verwysingsnommer vir die pos, die posbenaming en die departement wat die pos geadverteer het. Dit moet in "deel A" van die vorm ingevul word. Nadat u die vorm ingevul het, moet u u CV daarby aanheg. U kan ook gevra word om gesertifiseerde kopieë aan te heg van sertifikate of grade wat u in u CV of in die vorm vermeld het. Dien u posaansoek (vorm Z83, CV en kopieë van sertifikate) voor die sluitingsdatum in by die plek aangedui in die advertensie. Moenie na die sluitingsdatum nog inligting of dokumente aanstuur nie, aangesien dit nie in aanmerking geneem sal word nie. Poste word gewoonlik omtrent 'n maand voor die sluitingsdatum geadverteer. WAT OM TE VERWAG NA 'N AANSOEK OM 'N STAATSDIENSPOS
Na die sluitingsdatum word al die aansoeke oorweeg en word bepaalde aansoekers geselekteer (op die kortlys geplaas) met die oog op 'n onderhoud. Dié wat gekies is vir 'n onderhoud sal geskakel word om 'n datum vir die onderhoud te bepaal. 'n Keurkomitee of -paneel voer die onderhoude. Volgens staatsdiensregulasies moet die komitee bestaan uit ten minste drie staatsdienswerknemers van dieselfde of 'n hoër vlak as die geadverteerde pos. Die keurkomitee sal 'n kandidaat aanbeveel na afhandeling van al die onderhoude. Die keurkomitee moet die redes vir sy aanbeveling op skrif stel. Hierdie aanbeveling kan goedgekeur of verwerp word deur die persoon met die uitvoerende verantwoordelikheid vir aanstellings. In 'n provinsiale departement is dit die betrokke LUR. Redes moet gegee word indien die aanbeveling verwerp word. Alle kontrakaanstellings vir langer as 'n jaar sal onderhewig wees aan ' n proeftydperk. |