Die Uitvoerende Burgemeester van die Stad Kaapstad, Helen Zille, het 'n rekord R17,2 miljard begroting vir 2006/07 ter tafel gelê om ekonomiese groei en maatskaplike ontwikkeling te steun. Die kapitale begroting beloop R3 miljard en die bedryfsbegroting R14,2miljard. Die tariefverhogings is onder die inflasiekoers van 5,2%. Sy het die Stad tot 'n volhoubare groei van 6 to 8% verbind.
Een van die grootste veranderinge aan die begroting is 'n styging in kortings vir gestremdes en afgetrede persone. Die korting is verhoog om mense met 'n inkomste tot 'n maksimum van R3 000 per maand te akkommodeer. Die res van die maatskaplike besteding in die begroting is onveranderd. Altesaam R385 miljoen is toegewys vir 'n reeks gratis basiese dienste insluitende water, riool en elektrisiteit. Dié toekenning is bo en behalwe die vrystelling van eiendomsbelasting van sowat 100 000 eiendomme in die stad wat vir minder as R50 000 gewaardeer is.
Die Stadsregering kan sy inkomste deur verbeterde insamelingstelsels verhoog. Die sleuteltariefverhogins is as volg:
- Eiendomsbelasting, vullisverwydering en sanitasie verhoog met 5%.
- Water sal met 7% styg waarvan 4% aan die nuwe Bergrivierdamprojek gaan.
- Elektrisiteit gaan met 4,9% op.
Elke Stadswyk gaan R100 000 meer kry as waarvoor daar in die konsepbegroting voorsiening gemaak is. Elk van die Stad se 105 wyke sal nou R400 000 vir gemeenskapsprojekte ontvang waarvan R200 000 vir kapitale projekte en R200 000 vir bedryfsuitgawes sal gaan.
Daar is addisionele infrastruktuurbesteding in die nuwe Stadsbegroting voorgestel. 'n Bedrag van R75 miljoen is vir Vervoer, Paaie en Stormwater infrastruktuur toegeken, 'n gebeurlikheidsvoorsiening van R125 miljoen vir 2010 Sokker Wêreldbekerprojekte en 'n verdere R100 miljoen per jaar oor die volgende twee finansiële jare vir die Sokker Wêreldbeker.
Burgemeester Zille het addisionele kapitale toekenning vir die Metropolisie en die Stad se Nooddienste aangekondig. Die Metropolisie kry 'n ekstra R9,5 miljoen om hulle wetstoepassingsvermoëns te versterk terwyl Nooddienste 'n verdere R6,5 miljoen bo en behalwe die R31 miljoen kry wat vroeër vanjaar aangekondig is.
Burgemeester Zille het agt stappe voorgestel om die Stadsbegroting beter te laat werk:
- Uitbreiding van projekbestuurskapasiteit en die doelgerigte bestuur van projekte
- Vroeëre inisiëring van tenderprosesse in die finansiële jaar
- Verandering van die verkrygingsbeleid om dienslewering te bespoedig
- Opening van tenderprosesse vir die publiek en media
- Die daarstelling van 'n Staande Komitee oor Openbare Rekening
- Instelling van stappe om die die tenderproses te versnel
- Verbetering van prestasiebestuurstelsels
- Vulling van sleutelposte
Raadslid Ian Neilson
Burgemeesterskomiteelid vir Finansies
Tel: 021 400 1306