Minister Uys doen 'n ernstige beroep op ouers, voogde, versorgers en die algemene publiek om alle kinders jonger as vyf jaar na hulle naaste kliniek of Gemeenskapgesondheidsentrum te neem om teen polio geïmmuniseer te word, ongeag die kinders se immuniseringstatus.
"Polio is 'n hoogs aansteeklike siekte wat deur die poliovirus veroorsaak word en hoofsaaklik jong kinders aantas, maar enige persoon wat nie geïmmuniseer is nie kan polio opdoen," het Uys gesê.
Minister Uys het die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid se veldtog in samewerking met die Stad Kaapstad vandag by die Tafelsig Gemeenskapsentrum geloods. Ongeveer 150 kinders het by hom aangesluit deur simbolies 'n "rooi kaart" vir polio te wys om die verspreiding daarvan stop te sit.
"Gedurende die immuniseringveldtog sal spesiale pogings aangewend word om addisionele immuniseringsposte by alle klinieke, Gemeenskapgesondheidsentrums en gemeenskapsentrums so naby moontlik aan gemeenskappe beskikbaar te stel," het Uys gesê. Daarbenewens sal immuniseringspanne wat uit gesondheidswerkers bestaan gedurende die veldtog besoek bring aan dagsorgsentrums, bewaarskole en voorskoolse sentrums.
Polio kan voorkom word deur kinders op 'n roetine-grondslag gratis by openbare inrigtings in die provinsie teen polio te immuniseer by geboorte, op 6 weke, 10 weke, 14 weke en op 18 maande," sê dr Ivan Toms, Uitvoerende Direkteur van Stadsgesondheiddienste.
Suid-Afrika is al vir meer as 15 jaar vry van die poliovirus. Vroeër vanjaar het polio in Namibië uitgebreek nadat daardie land vir meer as tien jaar polio-vry was. Die nasionale massa-immuniseringsveldtog word gevoer om ekstra poliodruppels aan soveel moontlik kinders te gee. Dit sal voorkom dat die poliovirus onder onbeskermde kinders sirkuleer. Die veldtog word op kinders jonger as vyf jaar toegespits omdat hulle die kwesbaarste is.
Uitgereik deur:
Direktoraat Kommunikasie: Provinsiale Regering - Wes-Kaap, Departement van Gesondheid
Faiza Steyn
Direktor: Kommunikasie
Tel: 021 483 3235
Herman van der Westhuizen
Media Liaison Officer to the Minister of Health
Tel: 021 483 2627