| English | | | Afrikaans | | | Malunga | | | Qhagamshelana | | | Uncedo | | | Funa nzulu | |
|
|
Die Provinsiale Biblioteekdiens van die Wes-Kaapprovinsie lewer, in samewerking met plaaslike owerhede, die mees omvattende openbare biblioteekdiens in Suid-Afrika. Teen die einde van 2003 was 263 biblioteke en 52 depots (totaal 315) by die Biblioteekdiens geaffilieer. Altesame 1 221 265 persone was geregistreerde biblioteeklede. Ongeveer 26% van die totale bevolking van die Wes-Kaap is biblioteeklede en biblioteekdienste in die Wes-Kaap beskik oor ’n infrastruktuur wat met die beste ter węreld vergelyk. Die Biblioteekdiens verskaf ’n wye verskeidenheid biblioteekmateriaal op bruikleen aan openbare biblioteke. Benewens boeke, word tydskrifte en koerante, CD’s en video’s en die nodige vakkundige publikasies ook hierby ingesluit. Personeel van die Biblioteekdiens fasiliteer die keuring, aankoop, voorbereiding, versorging en verspreiding van biblioteekmateriaal en -toerusting op bruikleen aan munisipaliteite. Reklamemateriaal word ook geproduseer en gratis aan alle openbare biblioteke voorsien. Hulle verskaf ook vakkundige voorligting en advies aan biblioteekpersoneel en -owerhede, lewer ’n naslaan- en inligtingsdiens, doen navorsing oor die verskaffing en benutting van biblioteekdienste, bevorder die gebruik van biblioteke en biblioteekmateriaal, en hou in die algemeen toesig oor die handhawing van die openbare biblioteek se doelstellings. |
